PDA

View Full Version : Inisiasieskool vang twee mans



Unregistered
07-04-2014, 03:34 PM
http://diepos.linmedia.co.za/details/04-07-2014/nagmerrie_nadat_twee_glo_op_verbode_terrein_ry/25603
Nagmerrie nadat twee glo op ‘verbode terrein’ ry
Die kwitansie wat uitgereik is nadat die ‘losprys’ betaal is.
Date:
04 July 2014
Read:
738
Print

Twee jong mans van Modimolle het hulself vasgeloop nadat hulle glo verlede naweek per ongeluk te naby aan ’n gebied gekom het waar ’n tradisionele besnydings- en inwydingseremonie aan die gang was.
Wikus Nienaber (22) en Wayne Naudé (29) het glo op Saterdagmiddag, 28 Junie, om ongeveer 14:15 besluit om met Nienaber se vierwielmotorfiets op ’n stuk munisipale grond net buite die dorp, bekend as die “quarry-gat” te gaan ry.
Wat hulle nie geweet het nie, is dat die Waterberg-distriksmunisipaliteit glo dié grond vir ’n tydperk aan ’n groep mans van ’n besnydingskool beskikbaar gestel het om hul tradisionele besnydings- en inwydingseremonies uit te voer. Dié inwydingseremonie sou na verneem word vanaf 22 Junie tot 18 Julie duur.
Die twee vriende het aan Die Pos vertel dat hulle by ’n grondpaadjie ingery het tot by ’n watergat. Hulle het drie mans met stokke aan die oorkant gesien sit. Die mans het glo vir hulle beduie om te wag. Hulle het om die watergat na hulle geloop, maar die twee vriende het besluit om eerder spore te maak.
Nienaber, wat die terrein ken, het besluit om ’n makliker pad, langs die Genaak-grondpad, te kies om weer uit die groef te ry. Hulle het glo net sowat 100 m gevorder, toe hulle sien die drie mans kom agter hulle aangehardloop. Nog ’n groep mans het van voor af op hulle afgestorm.
Nienaber, met Naudé agterop, het met die vierwiel in die bosse ingery om van die mans af weg te kom, maar nóg sowat 100 m verder het hulle ’n boomstomp getref en die motorfiets het omgeslaan.
“Die groep mans was binne sekondes op ons,” het hulle aan Die Pos gesê.
Naudé vertel dat drie mans hom gegryp het en dadelik sy selfoon afgeneem het. Nienaber is glo deur vier mans gepak. Hy sê hy het nog probeer keer dat hulle die vierwiel se sleutel vat, toe een van die mans hom met ’n stok deur die gesig geslaan het. Naudé sê hy het probeer mooipraat, maar die mans was baie aggressief.
Die twee is na die mans se kamp toe gesleep. Die kamp was volgens hulle sowat 150 m van waar hulle geval het en sowat 200 m van die hoofpad af.
In die kamp is hulle beveel om op ’n houtbankie te sit, terwyl die groep se “president” (soos daar na hom verwys is), met hulle gepraat het. Hulle is daarvan beskuldig dat hulle met die groep se seremonie ingemeng het, en is ingelig dat hulle daarom ook besny gaan word.
Die twee sê hulle het vir die “president” gesê dat hulle nie geweet het van die seremonie nie, aangesien daar nêrens kennisgewingborde op is nie, en dat hulle probeer het om die perseel te verlaat, maar dat hulle deur die mans aangeval is. Hul verskonings is egter nie aanvaar nie.
Die “president” het glo vir hulle gesê dat daar ’n losprys vir hulle en die motorfiets betaal sal moet word voordat hulle vrygelaat kan word. Hy het aanvanklik vir hulle gesê dat elkeen R3 500, plus ’n addisionele R1 500 elk vir die motorfiets moes betaal, maar die vriende het gesê dat hulle nie soveel geld het nie.
Nadat die “president” glo bene en vuurhoutjies op ’n bord gegooi het terwyl hy die voorvaders “geraadpleeg” het, het hy aangekondig dat die losprys R9 000 is.
Nienaber is toegelaat om sy ma, Ella Nienaber, op Modimolle te bel om die geld te reël.
“Ek het my ma gebel en in so min woorde as moontlik aan haar probeer verduidelik dat ons die geld nodig het, anders kan ons nie huis toe kom nie,” het Nienaber aan Die Pos vertel.
Ella het ’n familielid gekontak, wat die polisie in kennis gestel het, maar die polisie het glo teruggebel om te sê dat daar nie ’n ekstra voertuig is om uit te gaan nie en dat hulle sal moet wag. Ella het toe haar man, Sarel, gebel.
Die res van die aand was ’n nagmerrie vir die twee, asook hul geliefdes. Twee polisielede het glo later by die perseel opgedaag, maar wou nie ingaan nie.
Die twee vriende is onder meer gedwing om tradisionele danse uit te voer, van hulle klere uit te trek, hulle is geskop, moes ’n kruiekonkoksie drink en dagga rook.
Nadat daar oor ’n losprys van R7 000 ooreengekom is, is daar ’n rooierige vloeistof oor hulle gesprinkel is, “sodat ons nie “mal” word wanneer ons uit die “genesingsgronde” beweeg nie”.
Nienaber se pa het aan Die Pos gesê dat een van die polisielede intussen gery het, maar dat hy (Sarel) vir die ander lid gesê het om te bly en getuie te wees dat hy die geld aan die “president” oorhandig. Die “president” het glo selfs vir Sarel ’n kwitansie uitgeskryf nadat die losprys oorhandig is. Die polisie was by toe dit gebeur het.
“Wat ons werklik omkrap van die hele gebeurtenis, is dat die polisie letterlik bygestaan het en nie ’n vinger verroer het nie,” het Sarel gesê.
“Hierdie mense (tradisionele dokters) word toegelaat om hul eie wette neer te lê en toe te pas, en die polisie is te bang om in te meng. Wie is dan veronderstel om ons te beskerm teen hul aggressie en afpersing?”
Die Pos het met John Koka, omgewings- en gesondheidspraktisyn by die Waterberg-distriksmunisipaliteit op Modimolle oor die voorval gepraat. Hy het aan Die Pos gesê dat hulle sowat twee of drie weke gelede met die mense van die inwydingskool vergader het om dit aan hulle duidelik te maak dat niemand teen hul wil, of sonder ouertoestemming daar mag wees nie. Volgens Koka het die skool geen reg om mense wat daar verbystap aan te hou of ’n losprys te eis nie.
Koka sê hulle moes hul kamp deur middel van plastiese sakkies aan bome of duidelike bakens afgesper of gemerk het.
Ná Die Pos se besoek het Koka die hoof van die inwydingskool oor die insident gaan spreek. Die hoof het glo vir Koka gesê dat hulle die twee vriende gewaarsku het om nie in hul seremonie-gronde in te gaan nie, maar dat hulle in elk geval daar ingegaan het, en toe gevang is.
Wat die losprys vir hul bevryding betref, het die hoof glo vir Koka gesê dat dit “tradisie” is om ’n boete te eis wanneer mense hul seremonie-gronde betree, omdat niemand veronderstel is om hulle in dié tydperk te sien nie.
Polisiewoordvoerder, ao. James Findlay, het aan Die Pos gesê daar is verskeie klagtes teen die inwydingskool gemaak deur die Nienabers en Naudés – ’n klag van afpersing, twee klagtes van ontvoering en twee klagtes van aanranding. Die dossier is op Dinsdag, 1 Julie, by die hof ingedien vir beslissing.