VOORUITGANG
Engels! Engels! Alles Engels!
Engels wat jy sien en hoor;
In ons skole, in ons kerke,
word ons moedertaal vermoor.
Ag hoe word ons volk verbaster;
daartoe werk ons leraars saam;
Hollands nog in sekere skole ---
is bedrog,‘n blote naam!

Wie hom nie laat anglisere,
word geskolde en gesmaad;
Tot in Vrystaat en Transvaal al,
oweral dieselfde kwaad.
“Dis vooruitgang!” roep die skreeuers,
“Dis beskawing wat nou kom!”
Dié wat dit nie wil gelowe,
dié is ouderwets en dom.

Wie daartegen durf getuige,
is ‘n Patriotsrebel,
Word verag, gevloek, belaster
en beswadder van die hel...
Met die vader van die leuen,
wat hul aanvoer, ruk hul aan,
en verguis wie nie wil saam doen,
oweral waar hul maar kan.

En ons volk met slaap bevange,
droom van vrede, is gerus;
Word hul wakker, ‘t duur nie lank nie,
netnou is hul weer gesus.
Mooie woorde, holle klanke,
vrome praatjies geen gebrek;
Dié wat van gevaar durf prate,
dié verklaar hul stapelgek.

Wie vir taal en oue sedes
in die bres spring, is ‘n dwaas;
“Leer maar Engels, dit maak salig!”
skreeu hul uit met groot geraas;
“Hollands sal vanself wel kome,
Afrikaans is Hotnotstaal!”
En die skole van die heertjies
moet ons bowenop betaal!

Skole waar ons seuns en dogters
word verbaster en geleer:
English History, English Grammar,
net so veul jou hart begeer.
En ons kerke, deur ons vaders
van hul sweet en bloed gebou,
Daarin word geheel onnodig,
English sermons uitgebrou....

Sal daar geen verandering kome?
Nee, solank ons volk bly slaap,
en maar voortdans op die pype,
op die fluite van hul paap.
Net solank as Dutch nog optional
En nog nie verpligtend is,
Sal dit eerder erger worde,
Dit is seker en gewis.

Koud word vrinde en betrekkings,
Oom en Neef is nou “Meneer;”
Tante en Nig is Miss of Mrs.,
alles koud nes winterweer.
Selfs ons kinders, as hul weer kom
van die skole, ag hoe koud!
Hoog van oog, vol selfverbeelding,
stug en styf as stukke hout.

English novels, English journals,
daarmee word die tyd verkwis,
en so menig arme ouer
weet nie dat daar gif in is....
Die is bly, roem by sy bure,
Dat sy kind so baie lees;
Wis hy wat! Sy grote blydskap
Die sou spoedig droefheid wees.

Dan die modes: al die klere,
strikkies, lintjies, wat niet al!
En die huisraad moet verander,
wat nou "Susan" nie beval.
Pa is wyn- of vee- of graanboer,
maar syn dogter is beskaam
As sy daar soms na gevraag word –
"boer" is tog so ‘n lage naam! .....

En ‘n boer het harde hande
en dra growwe klere ook;
in haar oog is pa maar sondig,
daar hy heeldag met sy werke spook.
Liewer sien sy fyne handjies
soos die studentjies het.
As sy een sien, word haar mondjie
in die regte plooi geset.

Boerevrou, oh fie! hoe lelik!
predikantsvrou, ja, dit sal
Sy tog seker nog eens worde,
Boere kan hààr nie beval.
Arme kind! Hoe te beklae,
uit haar stand en sfeer geruk,
ontevrede, morrend, sugtend
het haar lewe geen geluk.

Ander meisies sien sy trou,
en skryf die troudag op!
Predikantjies kom nie ... foei tog,
en die kindlief raak gefop.
Vader, moeder, werk maar vlytig;
Susan lees of speel klavier,
Skryf ‘n brief vol bitter klagte
aan Miss Jane vir haar plesier.

Maar Miss Susan word al oud al,
moontlik is die praatjie waar
Dat sy binnekort moet trou
met ‘n ou wewenaar,
Wat so as hy dink, bra slim is;
nou dis duidelik so ek meen,
As hy Susan trou dan het hy:
vrou en goewernant meteen.

Is Amerika se preke dikwels sonder
kop of stert,
As die preker maar kan skrywe,
dan is daar sy preek veel werd.
Die sy arms kan beweeg,
swaai nes ‘n meulerad,
Stamp dat die preekstoel kraak
en sweet dat die druppels spat.

Hoor maar as daar iets verhaal word,
Engeland of Amerika,
Daarvan droom hul op die preekstoel
en boots hul hier ook na.
“O, hoe plegtig!” “hoe dierbaar!”
as jy uit die kerk uit kom,
Hoor jy roep, enk’le mense wat die kop
skud, is maar dom.

Engels denke, Hollands prate,
net vertale kom al aan,
En dit is die voorbereiding,
dat ons taal maar trekke kan.
Maar o nee, gelukkig tog nie,
ware leraars is daar nog,
Wat studeer en eie werk doen,
dat ons lank hul houe mog!

Droewig is dit so te skrywe,
ons wens dat dit anders was,
En nou kom die Anneksasie,
ook weer net hierby te pas.
Toe daar vir ‘n tyd gelede,
word gevra dat ons moet bid
Vir ons arm Transvaalse broeders,
hoeveel het toe stil bly sit?

Toe Oom Paul en Oom Pieter,
hier was met ons Parlement,
Toe was daar geen enkel nuusblad
of hy maak dit tog bekend;
Was hy vriend, of was hy vyand,
hy het iets daarvan gesê,
Hy het dit òf aangeprese,
òf hy maak hul goed of sleg.

Maar die Hooggeroemde CHRISTEN,
blad vir Kerk en Maatskappy,
Had geen woordjie daarvoor ower;
die alleen het stil gebly.
Waarom? Ja, vra dit aan my nie,
die meneertjies moet dit weet,
Wat die mooie blaadjie uitgee;
ons sal dit so nooit vergeet!

As jou predikant mog vrage:
“teken dan tog daarvoor in”
Dink dan aan die Deputasie –
seker kry hy dan sy sin!
Maar daar het ons weer bewyse,
wat hul doel en dryfveer is:
ANGLO-evangelisasie,
anders loop hul planne mis.

Daarom is die anneksasie
in hul oog ‘n seën, ja,
En getuig van Englandsliefde
vir dié deel van Afrika!
Bosman, Jooste, Stegmann, and’re
word geprys en seer geroem,
Deur hul geesverwante word hul:
martelaars van staat genoem.

En wat Afrikaans of Hollands
praat en as syn taal begeer,
Dié is dwaas, ‘n arme sukkel,
vreeslik dom en ongeleer!
En as hy van "reg" durf prate,
word eenvoudig dit geseg:
“Jou rumoer- en oproermaker,
weet jy dan nie MAG IS REG!”

(C.P. Hoogenhout : 1843---1922)