In sy boek Die Evangelie Is Op Die Spel skryf Prof. Adrio König (p.202) dat daar verskillende teorieë is oor die bewustelike belewing van die tussentoestand in die hemel of die hel, of ‘n voorlopige plek soos die doderyk. Hy wys daarop dat die gelykenis van die ryk man en Lasarus (Luk. 16:19-26) as belangrikste bron dien!
Verder skryf hy: “Die probleem met hierdie beskouing is dat die besonderhede van Lukas 16 aanvaar word as ‘n beskrywing van hoe dit werklik sal wees. Dit is vir sommige egter moeilik om te aanvaar. Daar is regtig besonderhede in Lukas 16 wat vreemd voorkom. Dit sou immers beteken dat daar kontak sal wees tussen hemel en hel, so direk dat mense in die hemel alles sal sien wat in die hel aangaan, en al die gekerm sal hoor. Verder is die vraag ook hoe dit sal werk met die water en die ryk man se tong. Onthou dit sal voor die opstanding wees. Dit sal nog die tyd van die tussentoestand wees. Maar dan het ‘n mens mos nie ‘n liggaamlike lewe nie. Hoe het jy dan ‘n tong, en hoe kan water help vir die pyn? Kan ‘n mens regtig brand as jy nie ‘n liggaamlike bestaan het nie?”
Dr. Isak Burger beskou Lukas 16: 19-26 egter nie as ‘n gelykenis nie. In wese stem hy dus saam met König dat die verhaal letterlik vertolk moet word en nie as beeldspraak nie. In sy boek Die eerste 5 minute na die Dood (p10) skryf hy (Burger): “ ’n duidelike aanduiding dat Jesus hier nie ‘n gelykenis vertel nie, is die feit dat Hy ‘n persoon se naam noem – Lasarus (vgl. vers 20). In ander gelykenisse verwys Jesus altyd na denkbeeldige persone en geen name word genoem nie. Sy verteltrant hier verwys ook duidelik na ‘n spesifieke geval: En daar was ‘n ryk man ….. En daar was ‘n bedelaar.. (verse 19,20)”.
Hy dui egter aan dat dit geen verskil aan die gesag en waarheid van hierdie verhaal sou gemaak het as dit ‘n gelykenis was nie. Jesus het immers nooit leuens vertel nie.
Om Lukas 16: 19 – 26 beter te verstaan uit ‘n oogpunt van eksegese en uit ‘n teologiese hoek, is daar belangrikke aspekte in die verhaal wat nie in aanmerking geneem is by König sowel as Burger se skrywes nie. Die vertrekpunt is Mattheus 13 : 34 – 35.
Mattheus 13
(34) Al hierdie dinge het Jesus deur gelykenisse vir die skare gesê, en sonder gelykenis het Hy vir hulle niks gesê nie; (35) sodat vervul sou word die woord wat gespreek is deur die profeet: Ek sal my mond open deur gelykenisse; Ek sal uitspreek dinge wat verborge was van die grondlegging van die wêreld af.
Die vraag is nou, hoe verstaan u hierdie gedeelte wanneer u dit lees?